Tomas Tranströmer is pas as 2011 se wenner van die Nobelprys vir Letterkunde aangewys. Willie Burger vertel ons meer
Met die bekendmaking van die Nobelpryswenner op 6 Oktober is opgemerk dat die Sweedse digter Tomas Tranströmer die prys kry vir sy “gekondenseerde, deursigtige beelde waarmee hy ’n vars toegang tot die werklikheid bied”.
Soos dikwels in die verlede was hierdie toekenning ’n verrassing. Voor die bekendmaking het kenners en beroepswedders ’n kortlys van tien moontlike wenners saamgestel en die gunsteling was, soos in 2010, die Amerikaanse skrywer Cormack McCarthy. Omdat McCarthy ook een van my gunstelingskrywers is, het ek die aankondiging gretig op die internet gevolg. Die kortlys van tien moontlike wenners het ook ander bekende Amerikaanse skrywers soos Don DeLillo, Philip Roth en Thomas Pynchon ingesluit. Tweede op die lys van moontlike wenners was die Japannese skrywer Haruki Murakami.
Een rede vir Tranströmer se onbekendheid in Suid-Afrika is waarskynlik dat hy ’n digter is. Digkuns is beslis nie die gewildste genre nie en bowendien verloor poësie in vertaalde vorm dikwels die trefkrag wat dit in die oorspronklike taal het. Skrywers soos McCarthy, Murakami, Roth, Pynchon en DeLillo is baie bekend in Suid-Afrika omdat hul werk geredelik beskikbaar is. Ek kon in die dag of wat ná die aankondiging van die Nobelpryswenner nie in enige boekwinkels in my omgewing ’n bundel van Tomas Tranströmer opspoor nie.
Anders as met die toekenning aan byvoorbeeld Elfriede Jelinek in 2004, wat selfs tot een van die Nobelpryskomiteelede se bedanking gelei het, is Tranströmer waarskynlik nie ’n keuse wat weens die digter se persoonlike politieke standpunte opspraak sal verwek nie. Tranströmer is trouens in die jare sewentig daarvan beskuldig dat sy poësie “te min” met die politieke situasie van die dag gemoeid is en slegs op “innerlike ervaring” gerig is.
Tranströmer was nooit deel van digterlike beweging nie en het ook nie bande met universiteite of literêre tydskrifte gehad nie. Die 80-jarige Tranströmer was ’n sielkundige wat jare in jeugtronke en met dwelmslawe en veroordeelde misdadigers gewerk het, voordat hy in 1990 ’n beroerte gehad het wat dit vir hom moeilik maak om te praat. Hy het egter steeds aangehou skryf en selfs klavieruitvoerings gegee met die een hand waarvan hy die gebruik behou het.
In sy poësie is hy meestal met die grensgebiede tussen die bewuste en die onbewuste, die sigbare en die onsigbare, gemoeid. Volgens sy Amerikaanse vertaler, die digter Robert Bly, met wie hy ook goed bevriend is, begin sy gedigte dikwels met die empiriese wêreld voordat dit spronge na die geheimenisse van die onsigbare wêreld maak.
Omdat dit dalk moeilik is om van sy poësie in Suid-Afrika te lese te kry, sluit ek twee van sy gedigte, soos vertaal deur Bly, hier in.
THE COUPLE
They turn the light off, and its white globe glows
an instant and then dissolves, like a tablet
in a glass of darkness. Then a rising.
The hotel walls shoot up into heaven’s darkness.
Their movements have grown softer, and they sleep,
but their most secret thoughts begin to meet
like two colors that meet and run together
on the wet paper in a schoolboy’s painting.
It is dark and silent. The city however has come nearer
tonight. With its windows turned off. Houses have come.
They stand packed and waiting very near,
a mob of people with blank faces.
AFTER A DEATH
Once there was a shock
that left behind a long, shimmering comet tail.
It keeps us inside. It makes the TV pictures snowy.
It settles in cold drops on the telephone wires.
One can still go slowly on skis in the winter sun
through brush where a few leaves hang on.
They resemble pages torn from old telephone directories.
Names swallowed by the cold.
It is still beautiful to feel the heart beat
but often the shadow seems more real than the body.
The samurai looks insignificant
beside his armour of black dragon scales.
Bron vir vertalings: http://owlsmag.wordpress.com/2010/05/06/olives-transtromer/
Vk