Willie Burger gesels dié week oor interessante toevoegings tot Afrikaanse leesstof en ‘n internasionale treffer
’n VROU GAAN DOKTER TOE,
Ray Kluun, vertaal deur
Francois Smith, Tafelberg
Ray Kluun se boek het oorspronklik in 2003 in Nederlands verskyn as: Komt een vrouw by de dokter. Intussen is die roman ook verfilm. Op die buiteblad van die Afrikaanse uitgawe word aangedui dat “meer as ’n miljoen wêreldwyd verkoop” is. As so baie mense dit koop, vermoed ’n mens dat dit ’n boek is waaroor mense baie gaan praat.
Die roman gaan oor Steyn en Carmen, ’n jong, aantreklike en besonder suksesvolle en welgestelde paartjie in Amsterdam. Hul dogtertjie is een jaar oud. Hul vol lewe van geld maak, geluk en partytjie hou kom skielik tot stilstand as Carmen dokter toe gaan en uitvind sy het borskanker. Behandeling is onsuksesvol en sy ervaar al meer pyn. Uiteindelik neem sy afskeid van al hul vriende, van Steyn en, die moeilikste, van hul dogtertjie. Sy weet dat haar dogter haar nooit sal ken nie en sy skryf daarom vir haar briewe om eendag te lees.
Dit klink na al die bestanddele vir ’n tranetrekker. Dit is inderdaad baie roerend en seker een van die redes waarom die boek so goed verkoop.
Dit is egter nie al nie. Steyn ly aan “mono-fobie” – ’n “sieklike angs vir ’n (seksueel) monogame lewe”. Hy het talle los verhoudings reeds voordat Carmen siek word. Hoewel sy daarvan weet, het sy hom te lief om hom te los. Hy is op sy beurt, ten spyte van sy voortdurende ontrouheid, baie lief vir Carmen en vind onder meer in verhoudings die krag om Carmen tot die einde te ondersteun.
In ’n resensie in die NRC Handelsblad is die boek as ’n “ode aan die liefde” beskryf. Dit is beslis nie die soort liefde waarvan die meeste vroue in romantiese verhale droom nie, maar uiteindelik laat dit ’n mens anders na liefde, seks en verhoudings kyk.
Steyn is die verteller en dit is moeilik om van die selfversekerde man te hou, maar op ’n manier is sy besondere eerlikheid, hoe kru ook al, tog ontroerend. Daar is baie humor – al is dit eerder galgehumor – maar dit maak die donker boek op ’n manier draagliker. Die boek is op Kluun se ervarings gegrond. Hy het sedert ’n Vrou gaan dokter toe ook ’n roman geskryf oor ’n enkelpa wat sy dogtertjie grootmaak.
DIE VIERKANT VAN DIE WRAAK,
Pieter Aspe, vertaal deur
Daniel Hugo, LAPA
Nou hoef die liefhebbers van misdaadromans nie meer op die volgende Deon Meyer-boek te wag om spannende leesstof in Afrikaans te kry nie. Volgens die buiteblad is daar al meer as 1,5 miljoen misdaadromans van Pieter Aspe verkoop. Die speurder, kommissaris Pieter Van In, word in ’n buitengewone saak betrek. Hy moet ’n raaiselagtige inbraak – waartydens niks gesteel is nie – ondersoek. In ’n paar swaaie van die intrige, wat selfs aan Dan Brown se draaie deur die donker geheime van die Middeleeuse tempelridders, herinner, word die leser in ’n baie slim en spannende verhaal meegesleur.
bUit die wêreldletterkundeb
THE CROSSING
Cormack McCarthy, Knopf, New York
Cormack McCarthy is op die oomblik een van die belangrikste romanskrywers in die VSA. Sy mees onlangse twee romans, The road en No country for old men is al twee verfilm en laasgenoemde is met ’n Oscar as beste rolprent bekroon. Al twee hierdie romans is ’n paar keer se herlees werd.
Die probleem is dat ’n mens met No country so meegevoer raak deur die verhaal dat jy te haastig lees om by die spannende ontknoping uit te kom en daarom so baie van die fyn gedagtes en formulering mis. Insgelyks is The road so ’n skrikwekkende boek dat ’n mens te bang is om dit neer te sit en te bang is om verder te lees en in sulke omstandighede let ’n mens ook nie met die eerste lees op hoe fyn dit geskryf is en hoe diep die idees in die boek strek nie.
McCarthy se The crossing bly egter een van my gunstelingromans. Tydens Billy se reise deur Mexiko – die eerste oorsteek van die grens is veroorsaak deur sy poging om ’n wolf se lewe te red – ontmoet hy talle mense. By elkeen hoor hy van ’n ander lewensuitkyk. Telkens word Billy – soos al McCarthy se karakters – met bloedige en sinlose geweld gekonfronteer.
Die gewelddadige karakters in McCarthy se romans pleeg dikwels afgryslike misdade, nie ter wille van geld of roem nie, maar as manier om hul eie bestaan te bevestig. Alle handelinge, alle doelwitte word as verskonings ontmasker eerder as deel van ’n groter plan. Dit lei tot ’n beeld van ’n troostelose wêreld.
Min skrywers skryf sulke mooi prosa en so onthutsend. The crossing spook nou nog by my, meer as 15 jaar nadat ek dit die eerste keer gelees het. Vk