Nadine Gordimer se skryfwerk is ‘n manier om na die waarheid te reik, op soek na geregtigheid
In 1991 het Nadine Gordimer die eerste Suid-Afrikaanse skrywer geword wat die Nobelprys vir letterkunde ontvang het. In haar ontvangstoespraak verwys sy na ’n kortverhaal van Borges waarin ’n klompie gevangenes saam met ’n jaguar in ’n donker tronksel opgesluit is. Slegs een keer per dag, vir ’n klein rukkie, val ’n enkele strepie sonlig op ’n baie klein stukkie van die jaguar se pels. Uit hierdie brokkies waarnemings van die patrone op die dier se vel probeer hulle om ’n geheelbeeld te vorm, oortuig daarvan dat die sleutel tot die betekenis van hul bestaan daarin te lees is.
Vir Gordimer is ’n skrywer se taak hiermee vergelykbaar. Skrywers wy hul lewe daaraan om deur middel van woorde te probeer interpreteer wat hulle in die wêreld raaksien waarin hulle hulself bevind. Juis omdat die skrywer altyd natuurlik ook self ín die wêreld is, is die skrywer ook ’n deelnemer aan gebeurtenisse in die wêreld, nooit objektief “van buite die wêreld” nie en enige skryfwerk is daarom altyd vir haar ’n verkenning van die bestaan van die self én van die wêreld. Kortom: Om te skryf is om te ondersoek wat dit beteken om nóú en híér te bestaan.
Om hierdie rede was haar eie skryfwerk van die begin af gemoeid met die politieke en sosiale omgewing waarin sy haar bevind het. A world of strangers, wat in 1958 verskyn het, is twaalf jaar lank deur die apartheidsregering verbied, Burger’s daughter is in 1979, pas ’n maand nadat dit verskyn het, ook verbied. July’s people is ook deur die destydse regering verbied, maar is selfs in 2001 deur die onderwysdepartement gesensureer as ’n ongewenste teks vir skole aangesien dit as “rassisties” beskou is.
Om te skryf is om te ondersoek
wat dit beteken om nóú en híér te bestaan
Sommige mense (veral Afrikaanssprekendes wat haar werk as ’n aanval op Afrikaners ervaar het) het die bekroning in die buiteland van ’n roman soos The conservationist (Booker-prys in 1974), gewyt aan die feit dat Gordimer eintlik simpatie in die buiteland gekry het weens haar politieke betrokkenheid by die anti-apartheidstryd. (Sy was lid van die ANC toe dit nog ’n verbode party was en het in hofsake vir ANC-leiers getuig en sommige in haar huis versteek.)
Hierdie sou egter ’n eensydige beskouing van haar werk wees. Uiteraard kan ’n skrywer nie die sosiale en politieke omgewing waarin sy beweeg, ignoreer nie. Dit is juis deur die skep van ’n storie, deur die verbeelding in te span, wat hierdie werklikheid, die self, die eie gewete en ervaring ondersoek word. Die “mite”, die storie, waarin die ondersoek neerslag vind, bied uiteindelik ’n blik op menswees; op bestaan in hierdie wêreld.
Dit is belangrik dat hierdie ondersoek en daarom ook die blik wat dit oopmaak, nie dieselfde is as die wetenskaplike analise nie, maar dat dit juis ’n blik bied wat slegs deur die kunswerk ontdek kan word. Daarom is vakmanskap – om goed te skryf – die belangrikste eis aan ’n skrywer.
Gordimer het wel bekendheid verwerf as gevolg van haar verset teen die onreg van apartheid en ook vir haar verset teen die onreg van sensuur op enige plek in die wêreld en teen die onreg veroorsaak deur die ontkenning van vigs, maar sy is nie in die eerste plek ’n politieke aktivis nie. Soos vir enige buitengewoon goeie skrywer is trou aan goeie skryfwerk haar hoogste ideaal. Hierdie skryfwerk sal noodwendig ook die gemeenskap raak. Sy parafraseer in haar Nobel-lesing die woorde van Gabriél Marcía Márquez soos volg: “The writer must take the right to explore, warts and all, both the enemy and the comrade in arms, since only a try for the truth makes sense of being, only a try for the truth edges toward justice …”
Om só na die waarheid te reik, mag die skrywer lei om téén sy of haar eie lojaliteitsgevoel in te skryf en dit is volgens Gordimer slegs só ’n skrywer wat ’n diens aan die mensdom lewer.
Gaan lees gerus, as jy nog nie met hierdie Suid-Afrikaanse Nobelpryswenner se werk vertroud is nie, ’n kortverhaalbundel soos Beethoven was one-sixteenth black, wat sy op 84-jarige leeftyd gepubliseer het. Die verhale gaan oor alledaagse gebeurtenisse, maar dit word dig gelaai met betekenis, gedra deur woordgebruik wat verstom, wat insig bied in hoe dit is om mens te wees. Vk