Die Nobelpryswenner vir letterkunde word vandeesmaand aangekondig. Ons gaan in hierdie reeks na vorige wenners kyk
Vir Leipoldt was Oktober die mooiste, mooiste maand omdat die dag dan so helder is en so kosbaar elke aand. Maar Oktobermaand is elke jaar vir een of ander skrywer in die wêreld ook die mooiste, mooiste maand, want in dié maand word die wenner van die Nobelprys vir letterkunde aangekondig.
Die Sweedse uitvinder van onder meer dinamiet, Alfred Nobel, het in 1885 in sy testament bepaal dat sy boedel veilig belê moet word en dat uit die opbrengs jaarliks vyf pryse toegeken moet word aan mense wat gedurende die vorige jaar iets vermag het wat tot voordeel van die mensdom strek.
Daar is al dikwels gewys op die ironie dat Nobel, wat dinamiet uitgevind het en sy fortuin in die wapenbedryf gemaak het, juis ’n prys vir vrede ingestel het. In sy testament het hy slegs vir pryse in chemie, fisika, fisiologie/medisyne, letterkunde en die vredesprys voorsiening gemaak. In 1968 het die Sweedse Akademie ook ’n sesde prys ter ere van Alfred Nobel vir werk in die ekonomiese wetenskappe ingestel.
Die Nobelprys vir letterkunde is die eerste keer in 1901 toegeken. Van die begin af is die toekennings dikwels in omstredenheid gehul. Talle besonder onbekende skrywers het die prys al ontvang terwyl van die grootste name in die 20ste eeuse letterkunde oor die hoof gesien is. James Joyce, Marcel Proust en Joseph Conrad het byvoorbeeld nie een ’n Nobelprys ontvang nie.
Toe Herta Müller in 2009 die prys ontvang het, was daar weinig mense wat al van haar gehoor het.
Die kriterium waarvolgens die prys deur die Sweedse Akademie toegeken word, spruit uit Nobel se testament waarin hy bepaal het dat die prys vir letterkunde aan “die mees uitstaande werk met ’n idealistiese neiging” moet gaan.
Dit is nie baie duidelik wat hiermee bedoel word nie. In die eerste plek is die woord “werk” nie baie presies nie. Dui dit op ’n spesifieke werk of op ’n outeur se lewenswerk?
Oënskynlik word “werk” deur die Sweedse Akademie as die skrywer se “lewenswerk” geïnterpreteer.
Daar is egter al by nege toekenningsgeleenthede sedert 1901 wel na ’n spesifieke werk van ’n outeur verwys. Só het Ernst Hemmingway byvoorbeeld die Nobelprys ontvang met spesifieke verwysing na sy The old man and the sea.
‘Byna sonder uitsondering bevestig
bekroonde skrywers dit
wat Seamus Heaney so poëties
stel: Letterkunde het mag’
Omdat die prys eintlik nie op grond van ’n enkele werk toegeken word nie, is die ontvangers meestal ouer. Die gemiddelde ouderdom van ontvangers van die Nobelprys vir letterkunde is omtrent 63 jaar. Die pryswenners vir chemie en fisika word deesdae al jonger, maar die jongste letterkundepryswenner was Rudyard Kipling wat in 1907 op 42-jarige ouderdom die prys ontvang het.
Die Nobelprys word slegs aan lewende skrywers toegeken.
In die tweede plek is die opmerking dat werk met ’n “idealistiese neiging” bekroon moet word, ook baie onduidelik. Wat presies met “idealisties” of “ideaal” bedoel word (die Sweedse woord “idealisk” kan blykbaar sowel idealisties as ideaal beteken) is onduidelik. In die negentiende eeu, toe die prys ingestel is, was die idee dat groot letterkunde die ideaal van ewige, vaste waardes bevat. Hierdie opvatting van letterkunde met ewige waardes het intussen uitgedien geraak.
“Idealisties” kan ook as letterkunde beskou word wat nie realisties is nie, wat dus nie ’n wêreld voorhou soos dit is nie, maar soos dit ideaal gesproke sou moes wees. Uit talle toekennings is dit duidelik dat ’n mens die stelling ook nie só kan interpreteer nie.
By die oorhandigingsplegtigheid in Stockholm lewer die ontvanger elke Oktober ’n toespraak. Hierdie toesprake is boeiende leesstof. Telkens verduidelik die pryswenners hoe hulle deur onreg in hul spesifieke samelewing ontstig word en telkens praat hulle oor die aard van hul kuns.
Byna sonder uitsondering bevestig die bekroonde skrywers dit wat Seamus Heaney so poëties stel: Letterkunde het mag. “The power to persuade that vulnerable part of our consciousness of its rightness in spite of the evidence of wrongness all around it, the power to remind us that we are hunters and gatherers of values …”
Dit is die skrywers wat dit kan regkry om ons opnuut na ons waardes te laat kyk, wat taal op so ’n manier inspan dat dit ons bewussyn kwetsbaar maak vir die lyding, die uitsluiting, die onderdrukking van ander en vir begrip van ander, aan wie die Nobelprys toegeken word. Miskien is dit wat met ’n “idealistiese neiging” in Nobel se testament bedoel is? Vk