Vra jy lukraak vir mense waar hulle was toe hulle gehoor het lady Di het in ’n motorongeluk omgekom, is die kans nege uit tien dat hulle daardie oomblik presies kan herroep.
Vra jy lukraak vir mense waar hulle was toe hulle gehoor het lady Di het in ’n motorongeluk omgekom, is die kans nege uit tien dat hulle daardie oomblik presies kan herroep.
Dis eienaardig hoe ’n mens sulke gebeure onthou. Gebeure wat eintlik op ander mense betrekking het. Ek kan byvoorbeeld presies onthou waar ek gedurende pouse op 16 Augustus 1977 was toe die nuus soos ’n veldbrand op die speelgrond versprei het dat Elvis Presley dood is. Waarom ek dit onthou, weet nugter.
Ek en my geliefde gesels ’n paar weke gelede ná werk oor dit wat die dag op kantoor gebeur het. Nie ek of hy is groot aanhangers van bosberade nie, maar toevallig was ons albei die dag by sulke werksessies betrokke. Met een van die oefeninge moes my geliefde en sy kollegas gebeure in 1985, 1995 en 2005 wat vir hulle in hul lewens uitstaan met mekaar deel. Tensy daar ingrypende gebeure in dié jare plaasgevind het, het die meeste mense gesukkel om gebeure uit hul persoonlike lewens te herroep. Tog kon bykans almal dinge onthou wat op hul werk betrekking gehad het.
Ek dink ons almal leef onbewustelik met ons werk in die middelpunt van ons bestaan. Ons dagboeke is só gelaai met vergaderings, sperdatums en moet-doen-lysies om aan die einde van elke maand ’n salaris te kry, dat ons min plek in ons dagboeke oor het om te leef.
Ilze Burger en haar man, Daan, se verhaal in dié week se uitgawe is vir my ’n sprekende voorbeeld van so baie van ons lewens. Soos dit by hulle die geval was, gaan ons in so ’n mate gebuk onder die stres wat met die betaling van huispaaiemente en diverse uitgawes gepaardgaan, dat ons daarvan begin droom om die Lotto te wen en só van finansiële druk ontslae te raak. Ek weet nie van jou nie, maar ek ken niemand wat al die Lotto gewen het nie. In my vriendekring moet almal van ons werk om te oorleef.
Trouens, ek dink ons leef om te werk en werk nie om te leef nie. Só vergeet ons te maklik wat dit is wat die lewe eintlik die moeite werd maak. Soms is dit ’n ingrypende voorval wat ons tot stilstand dwing om weer ons lewe en ons prioriteite in oënskou te neem. Dalk moet ons gaan stilsit en nadink oor dit wat vir ons werklik kosbaar is en vreugde put uit die sogenaamde klein dingetjies in die lewe, want dis die klein dingetjies wat eintlik groot dinge in ons bestaan moet wees. Dan sal ons dalk gebeure uit ons verlede kan herroep wat ’n indruk op ons gemaak het en wat op ons eie menswees betrekking het, of oomblikke onthou wat veel meer as net werk behels.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.