Tussen lesings, besprekings, gesprekke, debatte, kunsuitstallings en shows deur het ek tydens die onlangse US Woordfees ook onder stokou eikebome en langs leivore in ’n baie warm Stellenbosch se strate geloop.
Tussen lesings, besprekings, gesprekke, debatte, kunsuitstallings en shows deur het ek tydens die onlangse US Woordfees ook onder stokou eikebome en langs leivore in ’n baie warm Stellenbosch se strate geloop.
Van die Boektent en De Vette Mossel (of “De Dikke Oester” soos ’n vriend telkens verkeerdelik na die plek verwys het), tot onder die sterrehemel van die Oude Libertas Amfiteater, kon ’n mens met bekendes en beroemdes in die wêreld van die Afrikaanse literatuur en kunste skouers skuur.
Die gonswoord in die bedryf waarin ek my bevind, is mos “nuwe media” en tussen BBM’s en WhatsApp (ek moet bieg, ek het ’n ruk lank gewonder wat is die “what’s up” waarvan ons digitale redakteur praat) het ek en my slimfoon mekaar in dié tyd van naderby leer ken. Dis g’n so maklik as wat dit lyk nie, want bo 50 het dit selfs met ’n bril vir my soms gevoel dis inderdaad my foon wat die slim een is.
Dit het my weliswaar beter laat voel toe ek een aand by die Oude Libertas in gesprek met die bekende skrywer Marita van der Vyver agterkom haar en my kennis van Apps is ’n ontwikkelende een. Ek voeg egter graag by dat ons deel van ’n generasie is wat nog behoorlik kan spel, hoofrekene doen en skoonskrif skryf.
Wat my terugbring by die bekendes en beroemdes na wie ’n mens kon luister en met wie jy tydens nog ’n suksesvolle Woordfees kon gesels. Ek het net weer eens besef dat digters, skrywers, akteurs en kunstenaars niks sonder harde werk kan regkry nie. Met talent alleen sal nie een van hulle sukses behaal nie. Jy luister as een van die bekendste literêre figure in Afrikaans, Joan Hambidge, in gesprek met uitgewer Etienne Bloemhof verduidelik hoe haar gepubliseerde gedigte verskil van die oorspronklikes waarmee sy die proses aangepak het. Daardie eerste woorde wat sy neerpen, moet sy skaaf en dikwels herskryf om die gedig te word wat sy as goed genoeg ag om in ’n bundel op te neem vir my en jou om te lees. Dis welverdiende erkenning as sy daarmee boonop ’n toekenning losslaan.
Eweneens mag dit dalk maklik lyk om op ’n verhoog te staan en toneel te speel, maar dis eers as jy met akteurs soos Amanda Strydom en Hannes van Wyk na afloop van Karen Marx se puik toneelstuk Voor ek vergeet praat, wat jy merk dat dit vir hulle uitmergelend was. Dis harde werk en kos ure se repetisie om staande applous van ’n gehoor in ’n stampvol saal te kry.
Hetsy ’n mens beroemd en bekend is, of jy kan dig, skryf, skilder of toneelspeel en of jy ’n werk doen wat nie in die openbare oog is nie, is dit belangrik om te besef dat sukses inspanning, toewyding en gewoon harde werk verg. Al kry ons nie staande applous nie, al hang ons kunswerke nie aan mure nie en al skryf ons nie topverkopers nie, het ons almal ’n talent waarmee ons kan woeker, maar die sleutelwoord is woeker.
Tot volgende keer.
BO Eldaleen en Marita van der Vyver by die toneelstuk Dis koue kos, skat by die Oude Libertas Amfiteater. Dié stuk is op Marita se gelyknamige boek gegrond.
ONDER Amanda Strydom, Hannes van Wyk en Karen Marx (regs) by De Vette Mossel voor hul gesprek met Saartjie Botha (links).
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.