Amanda Strydom en Hannes van Wyk is dié week op ons voorblad en het met Alita Steenkamp gesels oor die verhoogstuk waarin hulle onderskeidelik die rol van ’n ma en haar seun speel. Voor ek vergeet, sê Amanda, het haar opnuut van haar eie verganklikheid bewus gemaak. Dit het my laat dink …
Amanda Strydom en Hannes van Wyk is dié week op ons voorblad en het met Alita Steenkamp gesels oor die verhoogstuk waarin hulle onderskeidelik die rol van ’n ma en haar seun speel. Voor ek vergeet, sê Amanda, het haar opnuut van haar eie verganklikheid bewus gemaak. Dit het my laat dink …
My geliefde was ’n ruk gelede vir tien dae oorsee om ’n kongres by te woon wat my tyd gegee het om allerlei admintakies wat in die alledaagse lewe agterweë bly, te takel.
Met net myself as geselskap liasseer ek saans bankstate, waarborge, sertifikate en diverse papiere wat maande (eintlik ’n paar jaar) lank al in ’n mandjie langs my lessenaar staan en stof vergaar. Selfvoldaan ná ek die sleurwerk afgehandel het, kry ek een aand nog moed en besluit om die fotoalbums aan te pak. My aandag word afgelei toe my oog op ou foto’s in een van die albums val.
Ek kyk na ’n foto van een van my oumas waar sy as ’n strooimeisie saam met ’n bruidspaar en die res van die gevolg so om en by die vroeë dertigerjare afgeneem is. Ek blaai ’n paar jaar verder en sien waar my pa as baba in sy pa se arms vir die kamera loer. Ek blaai nog verder en sien hoe my ouers laggend êrens in Switserland in die laat vyftigerjare as bloedjong getroudes ’n sorgelose oomblik tydens hul verblyf
daar beleef.
Só blaai ek deur die sestiger-, sewentiger- en tagtigerjare van verskeie mense se lewens tot ek op ’n foto afkom van my (nog plooiloos) en my kinders (vars in die lewe) in die vroeë negentigerjare.
Ek beleef telkens ’n gevoel van nostalgie as ek na oomblikke in tyd, vasgevang op eendimensionele papier, kyk. Ek wonder altyd wat die mense op die foto’s destyds gedink, gevoel, gedroom, gehoop en gewens het.
Wat het daardie dag deur my ouma se kop gegaan toe sy as jongmeisie op die vooraand van haar lewe afgeneem is? Toe sy nog gedink het sy’t baie tyd om dinge te doen voor sy eendag oud is. Het sy ooit kon raai dat iemand 80 jaar later na daardie vasgevangde oomblik in haar lewe sou kyk en wonder oor die lewe, die sin daarvan en verganklikheid?
Terug by die huis vertel my geliefde my van ’n besoek aan die Museum im Palais in Graz, Oostenryk, waar hy na ’n multimedia-kunsuitstalling oor tyd gaan kyk het. In ’n video-insetsel sit twee mense oorkant mekaar en skeur elkeen op die tik van ’n horlosie se sekondes ’n papiertjie in die helfte en gooi dit voor hulle neer. Sekonde ná sekonde groei die hopie. Die insetsels eindig met die hoop papiertjies, twee leë stoele met twee ongeskeurde papiertjies op elkeen. Die mense is weg – die horlosie tik.
Só skeur ons elkeen ons papiertjies sekonde ná sekonde en dan is ons weg, voor ons al die beplande papiertjies kon skeur. Die enigste konstante is die tik van die horlosie wat ons nie kan keer nie.
Ek onthou ’n gesprek met my pa 27 jaar gelede. Op 50 het hy vir my gesê dat dit nie saak maak hoe jy jou somme doen nie – op dié ouderdom is jy oor die helfte van jou lewe. Vyftig het toe vir my baie ver geklink. Vandag is my aandeel aan ’n hoop papiertjies reeds meer as 50 jaar en ek kan nie help om te dink wie oor ’n paar dekades na ’n eendimensionele beeld op papier van my en my kinders sal kyk en wonder oor daardie oomblik toe die tik van ’n sekonde vasgevang is nie.
En dan lees ek wat Amanda sê: “Met jou verganklikheid in gedagte, kyk ’n mens ook weer anders na die lewe en raak jy van voor af opgewonde oor die klein dingetjies wat ware vreugde bring … Hoe ouer ek word, hoe meer waardeer ek elkeen van hierdie klein vreugdes.”
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.