As daar iets is waaraan ek ‘n kleintjie dood het, is dit mense wat hulself belangriker ag as die res van die mensdom.
As daar iets is waaraan ek ’n kleintjie dood het, is dit mense wat hulself belangriker ag as die res van die mensdom.
Uit die aard van ons werk by Vrouekeur skuur ons by verskeie geleenthede skouers met bekendes in die rolprent- en TV-bedryf. Ek woon boonop in ’n deel van Johannesburg waar daar heelwat van hulle woon of inkopies doen ná ’n lang dag op die stel van ’n rolprent- of TV-produksie.
So wag ek en my geliefde onlangs weer in die tou om te betaal en voor en agter ons is twee bekende sepiesterre. Ons paaie het jare gelede gekruis toe ek met albei kort na mekaar onderhoude moes voer – ek as onervare joernalis en hulle as ewe onervare akteurs – aan die begin van ons onderskeie loopbane.
Sedertdien het hulle al op verskeie tydskrifte se voorblaaie gepryk en word hulle as ou hande in die bedryf gereken. En ek is gelukkig genoeg om ook nog ’n werk in die joernalistieke wêreld te hê.
Dit bly vir my ná al die jare interessant om die publiek se reaksie te sien as bekende gesigte in ons plaaslike Spar in die tou by die kasregisters staan en wag om vir die artikels in hul trollies of mandjies te betaal. Bekendes het nou maar een maal daardie uitwerking op die meerderheid mense. Dis kompleet asof daar ’n opgewondenheid in die winkel te bespeur is as ’n bekende se gesig herken word.
Dié dag op pad uit die winkel wil ek by my geliefde weet of hy die twee vroue herken het. Sy antwoord: “Watter twee?”, het my laat lag, maar nie verbaas nie. Ek weet hy raak nie opgewonde oor mense net omdat hulle bekend is nie.
Te dikwels kyk ons teen mense se sogenaamde celebrity-status vas. Uit ervaring in die bedryf het ek agtergekom dat sommige celebrities dit kop toe vat. Dis die dat Hollywood s’n goed soos kaviaar en die een of ander plek se heilige water saamschlepp waar hulle ook al heen gaan. En glo my, op eie bodem is dit makliker om ’n oudiënsie met die pous te kry as ’n vyf-minute-onderhoud met sommige van hulle.
Bekende mense wat my beïndruk, is dié wat weet dat hulle bloot ’n werk doen, maar opgewonde is daaroor en dit so goed as moontlik probeer doen. Diegene wat aanstellerig raak net omdat hulle bekend is, beïndruk my net so min as vroue wat dink omdat hul mans die een of ander titel of stywe bankrekening het, dit hulle so ’n trappie hoër as ander sterflinge maak.
Dis hoekom dit vir my verfrissend is om tussen twee sepiesterre sonder grimering in Melville se Spar te staan en te sien dat hulle nes ek en jy waspoeier, eiers en toiletpapier in hul trollies het, want hulle is, soos ons, net mense.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.