Die baie mense weet dat ek mal is oor Ierse danse nie. Van my vriende wat dit weet, is nie heeltemal so beïndruk soos ek met Michael Flatley van Lord of the Dance-faam nie en lag so ‘n klein bietjie in hul mou vir my.
Die baie mense weet dat ek mal is oor Ierse danse nie. Van my vriende wat dit weet, is nie heeltemal so beïndruk soos ek met Michael Flatley van Lord of the Dance-faam nie en lag so ’n klein bietjie in hul mou vir my. Ek voel ’n veer en sê dit sonder om te blik of te bloos – as ek weer kon kies, het ek my brood en botter met ’n paar Ierse klopdansskoene verdien!
Dis dus geensins vreemd dat ek elke moontlike uitsending van Flatley se vertonings op laatnag-TV kyk nie en ek is elke keer begeesterd. Ek weet die man het nie ’n gebrek aan selfvertroue nie, maar hy mag maar, want dans, kan hy dans. So kyk ek so paar weke gelede na die Feet of Flames-vertoning in Hyde Park, Engeland, en luister na wat hy in die onderhoudinsetsels te sê het. Vir hom is dans meer as net die uitleef van ’n droom. Dis asof hy gebore is daarvoor, sê hy. Maar, voeg hy in dieselfde asem by, dis nie iets wat net gebeur nie – jy moet bereid wees om jou droom te skep en kan nie verwag dat dit sommer in jou skoot val nie.
Nou weet ek daar is diegene wat dié lewensuitkyk met ’n skeut sinisme sal beskou en dalk tereg, want, sou hulle redeneer, dis maklik om te sê, maar moeiliker om te doen, veral as drome lankal nie meer deel van jou verwysingsraamwerk is nie en dit net daaglikse oorlewing is wat jou laat aangaan. “Leef” is dan nie meer ’n woord
in jou woordeskat nie, want jy bestaan eintlik net.
Willem Geldenhuys het sy lewensverhaal in dié week se uitgawe aan Maretta Bellingan vertel – spesiaal vir Vrouekeur. Dis ’n storie wat ’n mens met deernis lees, een wat jou hartseer maak, een wat jou laat sidder, maar ook een wat jou bly maak. Dis ook ’n storie wat jou laat besef die lewe lyk vir mense soms só donker dat hulle gewoon nie herwaarts of derwaarts weet nie. Dis dan wanneer ’n mens desperaat raak. Ongelukkig is die gevolge meestal katastrofaal.
By die lees van Willem se verhaal, is dit asof jy een van daardie rillerflieks kyk wanneer die musiek, jou gesonde verstand en die kameraskoot saamwerk om te sê hier kom moeilikheid. Jy wil vir die karakter wat binne oomblikke reg in die leeu se bek gaan inloop, skree om te pasop! Dis natuurlik op daardie oomblik wat ek my oë en ore toedruk.
Soms maak ons in die lewe ook ons oë en ore toe vir ander mense se swaarkry. Omdat ons maar almal ons trots het, is
dit ook nie maklik om hulp te vra as jy regtig nie meer weet hoe om vorentoe te gaan nie.
Willem se drome het aan skerwe gespat. Hy is die eerste wat sy aandeel daarin erken, maar kom ons glo saam met hom dat sy droom om weer “soos ’n normale mens [te] voel en behandel [te] word”, nie die enigste is wat verwesentlik sal word nie. Ons leef in ’n samelewing waar ons te dikwels ons oë en ore vir ander se dilemmas toemaak – deels omdat dit vereis dat ons dalk ons eie gemaksone prysgee en ons te veel op onsself ingestel is. Die “wat-is-daar-vir-my-in-vraag” is geen vreemde begrip nie. Vir mense soos die vroue wat Willem in sy droefste jare ondersteun het, kan ek daarom net my hoed afhaal.
En vir diegene van ons wat al dom besluite in die lewe geneem het en nie skaam is om dit te erken nie, wil ek sê: Dis nooit te laat om te leer of te droom nie.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.