As jy ‘n ma is voel jy dikwels skuldig. Jy voel skuldig as jou kinders douvoordag moet skool toe gaan in die winterkoue, jy voel skuldig omdat jy hulle laat in die middag moet gaan haal …
Zerelda Esterhuizen
As jy ‘n ma is voel jy dikwels skuldig. Jy voel skuldig as jou kinders douvoordag moet skool toe gaan in die winterkoue, jy voel skuldig omdat jy hulle laat in die middag moet gaan haal, jy voel skuldig omdat hulle weens jou yl salaris nie aan al die dinge kan deelneem wat hulle graag wil nie en jy voel skuldig nadat jy weer soos ‘n demoon voor die hekke van die hel op die arme bloedjies geskreeu het. Ai, soms dink ek ek is ‘n aaklige mens, watwou nog van ma.
Maar tekenend van die tyd waarin ons leef, is ‘n mens soms ongeduldig en is jou lont soms net-net te kort. En as jy weer sien, spoeg jy vuur en maak jy jouself sommer bang.
En dan voel ‘n mens nog skuldig as jy by die werk kom en kyf oor jou kinders wat net wil TV kyk of nie wil huiswerk doen nie! Mag ‘n mens maar kla? Dit is soos toe jy nog in die huis was en jou ma gesê het jy moes haar horribale groen brousel opeet (glo ertjiesop), want die arme kindertjies in Ethiopië kan net droom van sulke kos terwyl jy jou pens trommeldik kan vreet.
Nou kla ek oor my kinders terwyl ek weet hoeveel vroue (en van my eie vriendinne) na hul eie kinders smag. En hoeveel ouers leef met smart as hul eie kinders sterf. En dan wonder ek: Mag ek ooit kla? Mag ek kla oor twee unieke kinders wat relatief gesond is en wat vir my ongelooflike vreugde bring? Mag ek kla oor twee bondeltjies mense wat ek met elke vesel in my liefhet?
Dalk? Ek is in ‘n stadium van my lewe wat baie van julle dalk sal ken. Ek is in my dertigerjare, fluks op pad na die groot 40 , ek het twee kinders (vier en sewe) , ek het een man (gelukkig getroud met ‘n bietjie Guy Fawkes af en toe) , een oorgewig-hond, een goudvis (wat ons pal dink is dood), een bedrywige loopbaan en baie skuld.
Dis ‘n gewone lewe met die gewone soort probleme. Maar dis in hierdie stadium van die lewe wat daar baie uitdagings is. Die balans om die balle in die lug te hou. Om as jy net so graag na Masterchef wil kyk eers moet luister na leesles, om tot tien te tel as jou stukkie seunskind minstens 36 keer ‘n aand roep “Mammie!”; om terwyl jy net ‘n bietjie jou oë wil toemaak vir ‘n Sondag-middagslapie na jou meisiemens se gekerm oor giftige dogtertjiemaatjies te luister. Dis nie maklik nie. Daar’s erger dinge in die lewe. Dit weet ek. Baie erger dinge. Maar tog, dis my mandjie vol dinge waaroor ek ‘n bietjie mag aflaai. Dis my mandjie, dis dalk jou mandjie. Dis ma’s se mandjie. En soms is dit baie terapeuties om oor ‘n glasie rooiwyn met jou vriendin te stry oor wie nou presies die veeleisendste kinders het. Ons is lief vir hulle, natuurlik, maar magistraat!
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.