Melvyn Tan is op 14 Mei in die Linder-ouditorium in Johannesburg in ‘n uitvoering vir die Johannesburg Musiekvereniging. Op die program is klaviermusiek uit die Romantiek – dié van Beethoven, Czerny, Schumann en Chopin.
Tan is geen onbekende aan Suid-Afrikaners nie. Hy besoek die land gereeld en het byvoorbeeld verlede jaar op die Johannesburg Internasionale Mozart-fees opgetree saam met Rosemary Nalden se Buskaid-strykensemble. Buskaid is een van die spesiale projekte wat Tan ondersteun.
Tan (59) is in Singapoer gebore, woon in Engeland, maar is in wese ’n wêreldburger wat oral waar hy kom sy besondere insig en liefde vir musiek oordra.
Hy het as vyfjarige begin klavier speel en is op 12 na die Yehudi Menuhin-skool in Surrey, Engeland, waar die meeste van sy onderwysers Frans was, leerlinge van Debussy en Ravel soos Nadia Boulanger en Marcel Campi. “Dis waar ek geleer het om na te dink oor die struktuur en die aard van musiek, om vas te stel wat die vormende kragte is wat aanleiding gegee het tot die musiek,” het Tan een keer opgemerk. Dié vermoë het deel geword van Tan se taksering van enige werk wat hy aanpak en blyk duidelik uit sy uitvoerings.
In 1978 is hy na die Royal College of Music in Londen en ná sy studies het hy in Londen aangebly.
Daar het hy besluit om te konsentreer op die fortepiano en musiek uit die Klassieke era. Dié fokus het gelei tot ‘n vennootskap met Roger Norrington en die London Classical Players en ook ‘n uitgebreide wêreldtoer.
Maar die konsertvleuel het bly wink en in 1996 het hy ‘n nuwe fase ingelui toe hy in Keulen ‘n uitvoering gegee het van ‘n Mozart-klavierkonsert en die volgende jaar Chopin se Preludes en Schumann se Kreisleriana in Londen se Wigmore Hall. Dis die einste 24 Preludes van Chopin, op. 28, wat Tan in die Linder speel.
Tan het as solis saam met vooraanstaande orkeste soos die London Philharmonic, die Academy of St Martin’s in the Fields, die Hongkong-Filharmonie en die Singapoer-simfonie orkes opgetree. Sy talle CD-pnames sluit in die vyf Beethoven-klavierkonserte wat hy in drie sessies tussen 1988 en 1989 vir Virgin Classics opgeneem het saam met Norrington en dié se London Classical Players. Tan is in dié konserte agter die fortepiano.
Vir EMI het hy al die Beethoven-sonates op drie CD’s opgeneem.
JMS-program
Melvyn Tan se program vir die JMS-uitvoering lyk so:
- Robert Schumann se Papillons, op. 2. Die 20-jarige Schumann het dié werk, vertaal as “Vlinders”, in 1831 geskryf na aanleiding van Jean Paul se roman Flegeljahre.
- Ludwig van Beethoven se Sonate in E, op. 109. Dié laat sonate, die derde laaste sonate wat Beethoven vir klavier geskryf het in 1820, word gekenmerk deur ‘n kleiner skaal en intiemer karakter.
- Carl Czerny se Variasies op ‘n tema van Rode, op. 33, “La Ricordanza”. Czerny het dié stel variasies waarskynlik in 1822-23 geskryf nadat hy verwerking vir stem gehoor het van die Fransman Pierre Rode se Air varié, op. 10 vir strykkwartet.
- Frédéric Chopin se 24 Preludes, op. 28. Chopin het ‘n deel van dié preludes geskryf in die winter van 1838-39 toe hy en George Sand en haar kinders die klam Paryse winterweer in Majorka ontwyk het.
- Tan se uitvoering begin om 20:00. Bespreek by Computicket. Besoek JMS se webwerf by www.jms.org.za.
Melvyn Tan saam met die Buskaid-strykensemble in ‘n uitvoering van Mozart se Klavierkonsert no. 12 in A, K414. Die opname is in 2015 tydens die Johannesburg Internasionale Mozart-fees gemaak.
[iframe src=”https://player.vimeo.com/video/147963526″ width=”640″ height=”360″ frameborder=”0″ webkitallowfullscreen=”” mozallowfullscreen=”” allowfullscreen=””]
Mozart’s piano concerto no 12 from BUSKAID on Vimeo.
Kyk hier na ‘n uitvoering van Ludwig van Beethoven se Klavierkonsert no. 3 in c, op. 37 asook die Klavierkonsert no. 4 in G, op. 58. Melvyn Tan is voor die klavier, sir Roger Norrington is op die podium en die orkes is die London Classical Players. Die opname is ook beskikbaar op die EMI Classics CDC 7498152.