Christo Pienaar is die keldermeester by Nuy Wynkelder buite Worcester.
Maryke Roberts
Hy is reeds sedert 2003 daar en het aan die Universiteit van Stellenbosch Wingerd- en Wynkunde asook Landbou-ekonomie studeer. Ná sy studies het hy in Australië en Amerika gaan pars voordat hy by Rooiberg en Slanghoek Kelder gewerk het.
Nuy Kelder vorm ‘n integrale deel van die gemeenskap en het ‘n nuwe wynproelokaal en restaurant wat hulle hoop om die publiek se gesindheid nog meer positief teenoor hulle te laat word.
1. Wat was jou drome op skool?
Op skool wou ek graag ‘n vlieënier word en het my diensplig in die lugmag gedoen
2. Wou jy altyd wynmaker in Suid-Afrika word of het jy gedroom van oorsee werk?
Ek het reeds in verskeie lande gaan wynmaak (Australië, VSA , Duitsland en Frankryk), maar wou maar altyd graag in SA werk.
3. Hoe voel jy oor die nodigheid van wynkompetisies?
Wynkompetisies is noodsaaklik, maar ‘n wynmaker moenie daardeur gedryf word nie.
4. Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Wyn is lewendig, dit verander saam met jou gemoed, geleentheid en ouderdom.
5. Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Ek geniet dit veral om Desemdermaande op Hermanus laatmiddag op die stoep te sit en yskoue chenin blanc te drink.
6. Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Toe ek in 2003 by Wilhelm Linde oorgeneem het as keldermeester van Nuy Kelder. Hy was vir 33 jaar aan die stuur daar en dit was groot skoene om te probeer volstaan.
7. Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Die eeste jaar as keldermeester het ons behoorlik presteer op verskeie wynkompetisies en daarna het ek probeer om die persepsie dat Nuy net goeie muskadel kan maak, te probeer verander.
8. Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Om steeds innoverend, kompeterend en relevant te bly. Die verbruiker kan gou moeg raak as jy voorspelbaar en eendimensioneel raak.
9. Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Wynmaak is elke jaar ‘n uitdaging. Die verbruiker verstaan nie die uniekheid van oesjare se verskille en die natuur se invloed nie.
10. Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Toe ek en, Adri, my universiteitsliefde en nou my vrou, in 1995 in New York se Central Park met ‘n bottel Franse vonkelwyn verloof geraak het.
11. Wat is die een ding oor die wynmaakproses wat min mense weet?
Wynmaak is ‘n wetenskap waar jy die natuur se vrug (die wingerd), asook die wynmaakproses (gisting) moet manipuleer, om sekere smake en geure uit die druiwe te kan ekstraheer. Alle geure in wyn is afkomstig van ‘n kombinasie van hierdie manipulasies in die wingerd en kelder.
12. Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Die persepsie dat net Stellenbosch goeie wyn kan maak. Hier is baie juweelwyne in ander wynproduksiestreke.
13. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Dat ‘n groter verantwoordelike wyndrinkkultuur binne Suid Afrika posvat, soortgelyk aan Italië, waar wyn ‘n leefstyl geword het.
14. Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Ek is versot op chenin blanc, hetsy ‘n vars vrugtige styl, of die meer komplekse houtverouderde chenin blancs. Die kultivar leen hom tot so baie style en versnitte.
15. Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ek is ‘n kranige bergfietsryer, dus is ek lief om al die wingerdpaadjies en berge te verken. Dit is ook lekker dink- en ontspantyd.
16. Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Ons het sonskyn in ons wyn. Ons wyne is vruggedrewe en jy kan die sonskyn en vrug in die wyn proe.
17. Met watter wyn vier jy groot geleenthede in jou lewe?
Ek het ‘n versameling van edel laat oes (NLH ), wat ek verouder en met groot geleenthede drink.
18. Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie
19. Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“Dit lyk so lekker om wyn te maak, ´n mens kan sien jy geniet jou werk.”
20. Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Ek het geleer by groot geeste soos Dassie Smith (Rooiberg) en Kobus Rossouw (Slanghoek) en vra raad by enige wynmaker wat uitstyg met hul wyne.
21. Het jy ‘n getroue hond wat oral saamry op die plaas?
Ek het twee skaaphonde wat my oral volg, maak nie saak waar ek by die kelder uitgaan nie, daar wag altyd een vir my.
22. Woon jy op die plaas en indien wel, wat is die voordeel en nadeel daarvan?
Ons woon by die kelder. Dit is baie voordelig omdat ek by die werk is, en die kinders geniet die vryheid en ruimte van ‘n plaasomgewing.
SOURCES
verskaf