Pretty Yende, die Suid-Afrikaanse sopraan met ‘n “diamanté tonaliteit en ‘n megawatt-glimlag”, het die wêreld aan haar voete
JOHAN MYBURG
Sony Classical het einde verlede jaar aangekondig dat hy ? eksklusiewe langtermyn-ooreenkoms met Pretty Yende, die jong Suid-Afrikaanse sopraan, aangegaan het. Yende (30) se Sony-debuut verskyn na verwagting teen September.
Op dié CD verskyn arias wat uitstaan as hoogtepunte in Yende se loopbaan – van die duet uit Delibes se Lakmé tot arias uit Rossini se Le comte Ory.
Ook op die CD is arias uit Lucia di Lammermoor (Donizetti), Il barbiere di Siviglia (Rossini) en I puritani (Bellini) ingesluit. Sy is in Junie in I puritani te sien in die rol van Elvira in die Zürich-operahuis.
Le comte Ory was die opera wat gesorg het vir haar eerste deurbraak in die operawêreld. In Januarie 2013 het die Georgiese sopraan Nino Machaidze wat die rol van grafin Adèle moes vertolk ongesteld geraak en Yende het in dié rol teenoor Juan Diego Flórez haar debuut gemaak in die New Yorkse Metropolitan Opera.
Ná haar sukses in die Met het sy dié rol ook kort daarna vertolk in die Theater an der Wien in Wene, Oostenryk. In dié geval het Yende die plek ingeneem van die Italiaanse koloratuur mezzo-sopraan Cecilia Bartoli wat siek geword het.
Maar dit was die “Blomme-duet” uit Lakmé wat Yende as skolier op Piet Retief bekoor het en haar laat besluit het opera is die rigting waarin sy ‘n loopbaan wil volg. Sy het die musiek in ‘n British Airways-televisie-advertensie gehoor en die volgende dag by die skool eers uitgevind wat dit is. Dit was egter genoeg om haar te besiel om te begin sang studeer.
Sy het ná skool sang studeer aan die Universiteit van Kaapstad se musiekskool (SACM) waar Virginia Davids haar sangonderwyser was. Van Angelo Gobbato en Kemal Kahn het sy opera-onderrig gekry.
Op 24 het sy die eerste sanger geword om die Hans Gabor Belvedere-sangkompetisie in Wene te wen en boonop al vier kategoriepryse in te palm. Dié onderskeiding het gelei tot ‘n uitnodiging om deel te word van ‘n program van La Scala in Milaan vir uitsonderlike jong kunstenaars. Die volgende jaar, in 2010, het sy haar debuut gemaak in La Scala in die kleiner rol van Berenice in Rossini se L’occasione fa il ladro.
In 2011 het sy die Operalia-kompetisie wat deur Plácido Domingo in die lewe geroep is in Moskou gewen en weer een die eerste sanger geword om terselfdertyd ook die gehoorprys en die Zarzuela-prys in dié kompetisie te verower.
Ook op haar kerfstok is haar sege in die Bellini-sangkompetisie; die Montserrat Caballé-kompetisie in Spanje; die eerste Savonlinna-sangkompetisie en dan het sy ook die sesde Leyla Gencer-sangprys verower.
Yende studeer tans aan die Accademia Teatro alla Scala in Milaan waar sy in bel canto spesialiseer. In 2013 het sy die rol van Norina in Donizetti se Don Pasquale in La Scala gesing en haar debuut in ‘n hele aantal Europese operahuise gaan maak, onder meer in Monteverdi se L’Orfeo in Verona, in Bizet se Carmen in Letland en in Gershwin se Porgy and Bess in Berlyn.
Haar konsertrepertorium sluit in Mozart se Requiem, Brahms se Ein deutsches Requiem, Vivaldi se Magnificat en Strauss se Vier letzste Lieder.
Na ‘n onlangse eerste konsertoptrede in Londen het The Telegraph Yende beskryf as “’n sopraan met werklike musikale intelligensie” met ‘n “diamanté tonaliteit en ‘n megawatt-glimlag”. The New York Times het tevore geskryf oor die helder glansende kwaliteit in haar stem en verwys na Yende se vermoë om “selfs die moeilikste koloratuur-passasies met verstommende presisie” te bemeester.
Pretty Yende as grafin Adèle in Rossini se Le comte Ory. Die aris is “Vous que l’on dit sensible” uit die tweede bedryf. Die dirigent van dié produksie uit die Met se 2012/13-seisoen is Maurizio Benini.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/eWB7N4VJK1I?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
‘n Opname van Pretty Yende se vertolking van “Qui la voce sua soave” uit Vincenzo Bellini se I puritani in 2013. Die dirigent by dié geleentheid in Moskou was Vladimir Spivakov.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/vzotpP7IKf4?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Pretty Yende vertolk Mozart se “Exsultate, jubilate”, K. 165, saam met die Verbier-fees se kamerorkes onder leiding van Joshua Bell. Dié opname is tydens die Verbier-fees in Julie/Augustus 2015 in Switserland gemaak.