Dis maklik om te sê ‘n mens moet gebalanseerd leef, maar hoe kry jy dit in vandag se lewe reg?
Ansja Ferreira
Balans is baie persoonlik – ‘n mens nie kan veralgemeen nie, vertel Anke Becker. Sy is ‘n lewens-, gesondheids- en welsynsafrigter. Volgens Anke is daar wel sekere elemente wat op almal van toepassing is.
“Daar is soveel elemente in ‘n mens se lewe wat balans nodig het, maar vir my is dit wanneer ek voel ek word nie in een of ander rigting gestrem nie, wanneer ek die meeste van die tyd kalm voel, met ‘n vars perspektief en genoeg motivering om alles te kan doen wat ek moet doen sonder om oorweldig te voel,” sê sy.
Volgens Anke kan die elemente in ‘n alledaagse lewe wat balansering nodig het, in twee kategorieë verdeel word, naamlik intern en ekstern. Een van die grootste redes waarom ons soms ongebalanseerd is of voel, is omdat ons meer op een kategorie fokus en die ander een afskeep, sê sy.
Om die twee kategorieë beter te verstaan, word dit in kleiner elemente opgebreek wat na al twee kante van die balansskaal wys, verduidelik Anke:
Interne elemente:
Verstand: Intellektuele uitdagings vir jouself teenoor om geleenthede te skep waar jy jou verstand kan laat rus.
Hart: Liefde gee teenoor liefde ontvang.
Gesondheid: Om ‘n gesonde eetplan te volg, genoeg water te drink en gereeld aktief te wees teenoor om jou liggaam te laat rus, genoeg te slaap en ‘n lekkerny te geniet.
Eksterne elemente:
Werk: Druk plaas op jouself om doelwitte te bereik teenoor om ‘n gesonde perspektief te handhaaf en die rit te geniet (nie net op die eindproduk te fokus nie).
Sosiaal: Om jou sosiale behoefte te bevredig teenoor om tyd net vir jouself te neem.
Familie: Om jou verantwoordelikhede as ‘n familielid na te kom teenoor om gesonde grense en perke daar te stel.
Pret: Om tyd te maak vir die dinge wat jy geniet teenoor om seker te maak jy oordoen dit nie.
“Albei kante van die spektrum is dus positief! Dit is wanneer ons een aspek afskeep dat die nagevolge nadelig kan wees en ons dan minder gebalanseerd voel,” sê sy.
Anke voeg egter by dat dit ongelukkig nie so vinnig is om balans te kry nie en dat die meeste mense maar daarmee sukkel. “Maar in vandag se lewe leef almal so gejaagd en soek hulle kitsoplossings vir alles en dit is waar die probleem lê. Enigiets wat die moeite werd is, neem tyd – ’n mens moet jou hele uitkyk op hierdie soort ding verander voor jy jouself kan verander. En dit is regtig wat nodig is. Selfbewustheid om die onbewuste, bewus te maak. ’n Pynlike proses wat regtig nooit eindig nie, sê sy.
Anke gee die volgende 10 wenke vir ‘n meer gebalanseerde “jy”
Die sleutel is om nie alles op een slag te probeer verander nie. Dit neem tyd. Wees geduldig en sag met jouself – dit is ‘n reis en nie ‘n resies nie.
1. “Ontkoppel” oor ‘n naweek en sit alles af. Gee jou brein ‘n ruskans. Skakel die TV en die rekenaar af, sit jou selfoon se luitoon af en geniet gehaltetyd saam met jou mense.
2. Wees ferm – sê nee vir alles wat nie noodsaaklik in jou lewe is nie, alles wat nie waarde verleen of toevoeg nie. Dit is onmoontlik om balans te handhaaf wanneer alles oorvol is.
3. Maak jou gesondheid ‘n prioriteit – ons almal weet dit, maar niemand doen werklik iets voor dit amper te laat is nie. Ons gesondheid het die grootste impak op ons lewensgehalte en ons werk. Ons is soveel produktiewer wanneer ons genoeg slaap, gesonder eet en gereeld aktief is.
4. Verminder alles wat nie goed vir jou is nie – dit sluit nadelige gewoontes en mense in.
5. Bestee tyd alleen – dis een van die moeilikste dinge om te doen in vandag se gejaagde lewe met soveel verantwoordelikhede, maar so noodsaaklik om spanning te verminder en kreatiwiteit aan te moedig.
6. Verhoudings is belangrik – maak tyd vir familie en vriende. En nee, om saam TV te kyk, tel nie. Gaan op ‘n afspraak met jou ander helfte, en gee mense jou onverdeelde aandag.
7. Bederf jouself – gaan vir ‘n gesigsbehandeling of bederf jouself met ‘n roomys op die strand, ‘n lekker koffie of glas wyn by jou gunstelingrestaurant. Dit hoef nie buitensporig duur te wees nie, maar sal ‘n groot impak op jou algemene gevoel van welstand hê.
8. Verken die wêreld – gaan stap en leer jou omgewing ken. Verken ‘n nuwe deel van jou dorp of stad of gaan na ‘n heel nuwe plek en maak jouself oop vir avontuur. Laat jou innerlike kind ‘n bietjie oorneem.
9. Verbreed jou bewustheid – leer iets nuuts. Woon ‘n kunsklas by of leer om ‘n instrument te bespeel – doen iets wat jy nog altyd wou doen.
10. Lag is werklik die beste medisyne. Moenie die lewe so ernstig opneem nie.
‘Geluk is nie ‘n saak van intensiteit nie, maar van balans, orde, ritme en harmonie’ – Thomas Merton
Anke: [email protected] of www.beckerliving.com