Ek hoor die fluisterstemme – ek weet iets groots word beplan. Die gedempte gegiggel en die sameswerende stemme beaam dit. Kort voor lank staan die twee niggies voor my.
Zerelda Esterhuizen
Ek hoor die fluisterstemme – ek weet iets groots word beplan. Die gedempte gegiggel en die sameswerende stemme beaam dit. Kort voor lank staan die twee niggies voor my.
Oudste niggie: “Tannie, ons wil vir die vissies ‘n begrafnis hou!”
Ek moet vir ‘n oomblik dink watter visse. Toe onthou ek van die twee koivisse wat ons vir Manlief se DIY-visdam gekoop het. Die een het uitgespring en die ander een is vermis en het vermoedelik tragies heengegaan. My dogtertjie blameer natuurlik die bure se katte.
Oudste niggie is doodernstig: “Ons moet ‘n begrafnis vir hulle hou, Tannie. Asseblief.”
Ek willig in en help hulle om twee plastiektafels en ‘n paar stoeltjies na die boom toe te dra.
Kort voor lank sien ek hoe hulle hul eie “kansel” bou en die verrigtinge begin. Die grootmense word ook uitgenooi, maar synde dat die rugby aan die gang was, was die pa’s nie so gewillig om dit by te woon nie en ek word afgevaardig om hulle daar te verteenwoordig.
Oudste niggie, Karla, is die dominee en begin met ‘n gewyde stem wat bewe van aandoening: “Ons is hier vandag om afskeid van twee dierbare visse te neem. Ons mis vir Angel en (nog ‘n naam wat ek nie kan onthou nie).”
Ook die eerste keer dat ek gehoor het dat die visse eintlik name het (of altans gehad het).
“Hulle was twee wonderlike vissies en hulle was altyd so opgewonde om kossies te kry en het so lekker geswem en met mekaar gespeel …”
Sy word onderbreek deur my jongste wat moeg word vir die storie en begin om in die boom te klim.
Jongste niggie (my oudste dogtertjie) maak asof sy gedemp huil, maar dis meer ‘n gegiggel as iets anders.
Oudste nefie, Nico, sit ook en maak asof hy trane afvee.
Karla begin weer gewyd terwyl sy haar stoute nefie wat nou op en af in die boomhuisie spring, kwaai aankyk: “Toe Angel sien dat haar man weg is, toe wou sy nie meer sonder hom leef nie en het toe selfmoord gepleeg! Sy sal altyd as ‘n vissie vol liefde onthou word!”
My oudste broer bly in Australië en kom so een keer per jaar kuier. Sy kinders bly hier by hul ma en as hy kom kuier gaan haal hy sy kinders en dan bly hulle so drie weke by ons in die huis.
Vir my kinders is dit wonderlik. Hulle het heeltyd speelmaats en hulle is mal oor mekaar. Baklei natuurlik ook so nou en dan, maar hulle speel heerlik.
Een aand tydens my broer se besoek braai ons en toe is my kinders se twee niggies aan my man se kant, Jordan en Alexa, ook daar. Dis ‘n gejil en ‘n gespeel uit ‘n ander wêreld.
Toe hulle in die swembad baljaar, besef ek watter kosbare herinneringe dit eendag vir hulle gaan wees. Dis so lekker vir kinders om niggies en nefies te hê en hoe gelukkig is my twee om drie niggies en een nefie te hê!
Dis tyd wat hulle as volwassenes nog gaan onthou en al kuier hulle dan dalk nie meer saam nie of al sien hulle mekaar net op Facebook, gaan hulle altyd dinge van mekaar onthou. Dalk die een herfsdag toe hulle ‘n somber visbegrafnis gehou het, of die kere toe hul klein nefie sy ouer nefie mal gemaak het (“Nico, speel nou dadelik met my!”) of die kleinste niggie Alexa wat haar nefie Boetie noem of die drie groot niggies wat heeltyd Juffrou-Juffrou speel en dan stry oor wie die Juffrou en die kinders moet wees. Dis ‘n groot geskenk.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.