Weet jy wat is BPA of GM? Ons verduidelik hier als wat jy moet weet oor organiese kos. Kyk in ons 15 Augustus-uitgawe vir selfs méér inligting.
Luisa van der Linde
Iemand wil dalk prontuit weet: “Hoe kan jy vir jou gesin gewone vleis en eiers gee, as daar produkte van vrylopende diere op die mark is?” of jy kry dalk e-posse wat jou bitter sleg laat voel dat jy nie kilometers na die naaste mark vir organiese kos ry nie.
Wat is organiese kos?
Naas babakos is organiese kos die vinnig groeiendste kosmark in die voedselsektor.
Produkte word as organies geklassifiseer op grond van sekere landboubestuurspraktyke wat die produsering van kos deurlopend beskerm.
- dit mag nie aan kunsmatige chemikalieë of pesbeheer blootgestel word nie
- dit mag nie kunsmatig verryk word nie
- organiese boere se vee of pluimvee moet 100% organiese voer met geen bymiddels kry nie
- die vee of pluimvee mag net met homeopatiese medisyne behandel word
Vrylopend is ’n begrip wat gekoppel word aan diere wat kan rondloop soveel hulle wil. Dié diere mag met veeartsmedisyne behandel word en die kos wat hulle eet, mag bymiddels bevat.
Die geweldige groei in die organiese kosmark is waarskynlik ’n verbruikersreaksie op die ongemak oor insekdoders, veeartsmedikasie, wantroue in die kosbedryf en ’n behoefte om gesonder te eet.
Voorstanders van organiese kos sê
- organiese kos is genadig met diere en dit help om die natuur te bewaar
- dit is gesonder vir jou liggaam omdat die produkte natuurlike bemesting, soos mis kry
- dis gesonder omdat dit vry is van chemiese middels soos MSG, aspartaam en tartrasien
- wanneer jy organiese kos kies, verminder jy jou koolstofvoetspoor.
Teëstanders van organiese kos voel
- organiese produkte is te duur en tydrowend om te vervaardig
- boere kry ook ’n aansienlike laer oes wanneer hulle aanvanklik na organiese boerdery oorskakel
- dit vat jare voor diere en plante ’n natuurlike weerstand teen plae en peste opbou
- organiese boerdery is dus meer gespesialiseerd, meer arbeidsintensief en minder betroubaar met baie hoër risiko’s
- diere moet ook duurder voer kry, omdat hulle nie voer met bymiddels mag eet nie
- organiese hoenders vat ook dubbel so lank om groot te word as hoenders wat volgens bedryfskonvensies grootgemaak word
Die kenners sê
Dr Carien Bouwer, ‘n voedingswetenskaplike, sê dit bly mense se eie keuse of hulle graag organiese kos wil eet of nie.
“Organiese produkte waarvan die natuurlike bemesting soos mis nie ordentlik afgewas is nie, kan ook nadelig vir menslike gesondheid wees.
“Iemand wat ’n voorstander van omgewingsake is, mag dalk organiese kos koop met die doel om die omgewing te bewaar en genadiger teenoor diere te wees.
“Iemand wat allergies of sensitief vir ’n spesifieke chemiese middel of preserveermiddel is, mag dalk voordeel daaruit trek om organies te eet.
“MSG, aspartaam en tartrasien kom nie natuurlik in voedsel (soos vrugte en groente) voor nie, of dit nou organies of konvensionele voedsel is. Dit word by ‘verwerkte’ of geprosesseerde voedsel gevoeg, wat dus in elk geval nie as organies geklassifiseer word nie.
“Mense moet egter onthou dat sekere komponente in kos, soos versadigde vet, ongesond bly, maak nie saak of dit in organiese of nie-organiese kos voorkom nie.
“Daar is nie regtig onteenseglike wetenskaplike navorsing (byvoorbeeld uit meta-analises of sistematiese oorsig-artikels) wat bewyse lewer dat organiese kos uit ’n voedingsoogpunt werklik voordeliger is nie. Hier en daar is wel studies met bewyse vir ’n hoër anti-oksidant of vitamieninhoud.
“Ek voel dit mag moontlik meer sinvol wees om ’n daaglikse multivitamien te neem as om vir voedingkundige redes organiese produkte te koop. Ek stem wel saam met die omgewingsvoordele wat ’n organiese boerdery inhou,” sê dr Carien.
Heidi du Preez, ‘n voedingsterapeut, sê die grootste voordeel van organiese voedsel is dat dit hoër in voedingswaarde is.
“In organiese boerdery is die gehalte van die grond van uiterste belang, Net natuurlike bemesting hoog in voedingstowwe word gebruik. As die grond meer voedingstowwe bevat, sal die plante ook hoër in voedingswaarde wees.
“Die feit dat organiese voedsel ook vry van gifstowwe is, maak dit soveel te meer ’n beter gesondheidskeuse.”
Vir meer inligting, besoek Heidi se webwerf by: www.naturalnutrition.co.za