Hoor jy altyd daarvan op die nuus, maar weet nie eintlik wat dit beteken nie? Ons geldghoeroe, Nico Swart, verduidelik
Mense praat gereeld van ekonomiese aanwysers en wat dit vir ons sak beteken. Ons weet dikwels nie wat om daarvan te maak nie. Wat beteken aanwysers vir ons en wat gaan uiteindelik ons toekoms bepaal, hetsy positief of negatief? Ekonomiese aanwysers bepaal grootliks veranderlikes in die finansiële markte soos rentekoerse, wisselkoerse, aandeelpryse en effekte. Dit is veral die verskil tussen hierdie aanwysers se verwagte waardes en die werklike waardes wat die bewegings of veranderings in die finansiële markte veroorsaak. Ekonomiese aanwysers het ’n groot en volgehoue invloed op ons lewe, veral met betrekking tot ons finansiële toekoms en besluite oor ons persoonlike en sakelewens. Dit bepaal onder meer ons salarisse/inkomste, ons lewenstandaard, ons besteebare inkomste en ons beleggingsbesluite. Dit vorm ons persepsies rakende risiko en beïnvloed ons vertroue in die toekoms.
Wat is die finansiële markte waarna ons kyk?
Die aandelemark, die effektemark en die valutamark. ’n Mark is waar kopers en verkopers bymekaarkom om transaksies te sluit – ook finansiële transaksies vir die koop en verkoop van aandele, effekte en die geldeenhede van verskillende lande.
Wat gebeur in die finansiële markte?
Die finansiële markte “wag op nuus” om gestimuleer te word om daarop te reageer. Sodra nuus ontvang word, vind daar bepaalde koop- en verkooptransaksies plaas teen bepaalde pryse vir bepaalde hoeveelhede. Hierdie nuus word deur die ekonomiese aanwysers verskaf. Die markte reageer dus op bepaalde veranderings in hierdie ekonomiese aanwysers, hetsy positief of negatief. Die probleem waarmee almal sit, is dat niemand presies weet wat die invloed van ’n bepaalde aanwyser op die markte gaan wees nie. Een van die redes hiervoor is dat hierdie aanwysers verskillende invloede uitoefen en dat ons nie weet watter invloed die grootste gaan wees nie, hetsy positief of negatief. Net so kan ’n bepaalde aanwyser se verandering in die teenoorgestelde rigting deur ’n belangriker aanwyser se verandering, of groter verandering, teengewerk word. Net so kan ’n verandering in een aanwyser deur ’n verandering in ’n ander aanwyser geneutraliseer word. Diegene wat met die invloed van hierdie aanwysers in die markte werk, verwag sekere veranderinge nog voordat dit gebeur. Hoe meer die aanwyser dan van hierdie verwagte waarde verskil, hoe groter is die invloed op die finansiële markte. Enkele aanwysers is byvoorbeeld die aankondiging van ’n hoër rentekoers (’n hoër repokoers), die aankondiging van ’n maatskappy se resultate, die kies van ’n sosialistiese president, ’n politieke toespraak wat beleggers moontlik kan raak, ’n verswakking van die Amerikaanse ekonomie, die Europese skuldkrisis in sekere lande, ’n toespraak oor die beslaglegging op plase, die huidige Amerikaanse skuldkrisis, die Amerikaanse werkloosheid- en indiensnemingsyfers, volgehoue stakings in alle bedrywe en staatsdepartemente in Suid-Afrika, insluitende die polisie, die gevangenis, die weermag en mediese personeel wat nooddienste moet lewer. Net so beïnvloed oorsese ekonomiese aanwysers Suid-Afrika se ekonomiese aanwysers en finansiële markte.
Ekonomiese aanwysers in Suid-Afrika
- Rentekoersbesluite deur die Reserwebank (SARB) Die SARB besluit wat die koers is waarteen hulle geld vir die ander banke leen. Dit word die repokoers genoem. Banke hef weer rente hierby en bepaal die rentekoers vir oortrokke geriewe en lenings aan kliënte.
- Die begrotingsrede Die primêre begrotingsrede word jaarliks in Februarie deur die minister van finansies gelees. Dit dui talle aspekte en wetsveranderings aan wat vanaf 1 Maart op alle Suid-Afrikaners van toepassing gaan wees. Die mediumtermynbegroting is in Oktober gelees en moet met inagneming van die volgende verkiesing beoordeel word. Daar is byvoorbeeld voornemens om werk te skep. Net so probeer hulle die land se afwaartse kredietgradering stop.
- Die verbruikersprysindeks Die verbruikersprysindeks (die jaarlikse styging in die pryse van sekere produkte en dienste) word gebruik om die gemiddelde jaarlikse inflasiekoers van Suid- Afrikaners te bepaal.
- Die bruto binnelandse produk (BBP) Die BBP is die totale waarde van alle finale goedere (klaar produkte) en dienste wat jaarliks binne die grense van ’n land vervaardig word. Die syfer help om die ekonomiese aktiwiteite van ’n land te bepaal.
- Kleinhandelverkope Die verkoopsyfers in kleinhandelwinkels, veral ’n styging of ’n daling in reële terme (ná inflasie) oor ’n bepaalde periode (of in vergelyking met ’n vorige periode), dui op die vertroue van mense in die toekoms/die ekonomie (hul wil om te bestee) asook op ’n moontlike styging of daling in hul besteebare inkomste (byvoorbeeld as gevolg van stygende rentekoerse en grondbelastings).
- Indiensneming en werkloosheid Die ideaal is om ’n baie lae werkloosheidsyfer in ’n land te hê. Syfers oor indiensneming wys byvoorbeeld op nuwe ondernemings, wetgewing wat indiensneming vergoed, en dies meer. In Suid-Afrika is daar baie onwettige immigrante wat hierdie syfers basies sinneloos maak omdat ons nie kan bepaal hoeveel mense in die land is en moet wees nie.
- Geld en krediet Die ondubbelsinnigste aanduider van ’n ekonomie wat in duie stort, is wanneer ’n land besluit om geld te druk sonder dat daar welvaart voor weggebêre is in byvoorbeeld die Reserwebank. Hier styg die inflasiekoers tot in die miljoene. Gelukkig word ons land se geld deur doeltreffende en verantwoordelike bestuur by die Reserwebank gereguleer. Net so word krediet (die mense se skuld) gereguleer deur rentekoerse te verhoog (indien ons te veel skuld maak) of te verlaag (as ons te min koop en hulle die ekonomie aan die gang wil kry). Daarsonder kan ons finansies maklik in duie stort.
- Verbruikersvertroue Die verbruikersvertroue kan in die verkoopsyfers in die kleinhandelsektor oftewel winkels gesien word. Mense moet kos koop al gaan dit sleg, maar sal byvoorbeeld nie hul meubels of motor in moeilike ekonomiese tye vervang nie – hulle is bereid om te wag.
- Sakevertroue Indien ons vertroue in besigheid en die vestiging van nuwe ondernemings toeneem (die toekoms daarvan), kan dit ’n aanduider van toekomstige ekonomiese groei wees, veral as dit gepaardgaan met ’n styging in die indeks van alle aandele op die effektebeurs en ’n styging in die aantal bouplanne wat jaarliks of per kwartaal goedgekeur word. Die teenoorgestelde is ook waar – indien genoemde dinge verswak of daal, kan ons ’n daling in die ekonomiese groeikoers verwag.
- Die betalingsbalans Dit dui op vyf verskillende rekeninge van die regering, naamlik die lopende rekening, die kapitaaloordragrekening, die finansiële rekening, niegedokumenteerde transaksies en die amptelike reserwerekening. Die betalingsbalans sal altyd balanseer omdat iemand of ’n land goedere of diens koop, en iemand anders of ’n ander land daarvoor betaal.
Wat van ons land se finansiële bestuur?
Ons eie ekonomiese en “politieke” aanwysers is baie belangrik. Hierdie aanwysers verskil tussen ons as mense en belastingbetalers, veral ons persepsie van die huidige en moontlike langtermyngevolge daarvan. Ons kan slegs van goeie finansiële bestuur praat as die doeltreffende verkryging (insameling) van belasting van belastingpligtiges met dieselfde mate van doeltreffendheid gepaardgaan as dit by die aanwending (en nie die vermorsing daarvan nie) van geld kom. Ons munisipaliteite vermors ook ongelukkig jaarliks biljoene rande en daar is gebrekkige dienslewering – daar kan geen belangriker ekonomiese aanwyser vir ons as Suid-Afrikaners as ons plaaslike owerhede wees nie.
Nico Swart is die outeur van meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning. Besoek www.moneyskills.co.za