Is jy moeg vir dieselfde ou sop-resep? De Grendel se “Comfort Night-Out” wintergeregte, deur sjef Ian Bergh, is dalk net die ding vir jou.
Maryke Roberts
De Grendel Restaurant het pas hul jaarlikse “Comfort Night-Out” winterreeks bekendgestel, waar dit lekkerder is om daar by sjef Ian Bergh te gaan eet, as om tuis te bly en dieselfde vervelige sopresep te probeer.
Die spesiale wintergeregte is tot 30 Augustus beskikbaar en die geregte verander elke twee weke waar dit lekker saam met De Grendel-wyne gekomplimenteer word. Kyk uit vir springbokskenkel, moussaka, malvapoeding en ander wintergunstelinge, terwyl Kaapstad se liggies deur die ruite vir jou wink.
Sjef Ian het solank vir ons vertel oor sy kosmaakstyl en waaruit hy inspirasie put:
My oumas was my rolmodelle in koskook. Ek het geen formele opleiding nie, maar was baie gelukkig om saam met briljante mense te gewerk het en steeds doen.
My kosstyl is “Moderne Kaapstad Kookkuns”. Alhoewel my kos geanker is in klassieke Franse tegnieke, beeld my kos die kosmopolitaanse aard van Kaapstad en ons Durbanville-wynstreek uit. Dit reflekteer die uitstekende bestanddele wat ons tot ons beskikking het, my liefde vir ons eie koskultuur.
Die afgelope twee jaar by De Grendel staan vir my uit as sjefshoogtepunt. Om betrokke te wees by die skep en uitbou van ’n restaurant is besonders. My drie jaar saam met Franck Dangereux het my help vorm as ’n sjef.
As ek nie ’n sjef geword het nie, sou ek dalk ’n dokter of rekenmeester of prokureur wou wees, want dan sou ek meer geld gehad het.
Geroosterde hoender en lam asook biltong en droëwors wat hang op die stoep in die koue droë winter by my ouma-hulle in die Boesmanland, laat my sommer onmiddellik weer my kinderdae herleef.
Om ’n gunsteling kosbestemming te kies, sou ek ’n munstuk moet skiet tussen Italië of die suide van Frankryk. Ek is veral mal oor Italiaanse kos.
Die vreemdste kosversoek wat ek al in my loopbaan moes uitvoer was rou foie gras en hiermee bedoel ek ’n groot stuk rou foie gras!
My vrou se hoender- en sampioengereg, is trooskos vir my, want dan weet ek, ek hoef nie te kook nie én boonop is dit heerlik!
As ek drie mense kan nooi vir ete, kies ek my drie beste musikante, al is hulle nie meer hier nie, want het ek so baie vrae vir hulle! Dis Eddie Veddar, Jim Morrison en Jimi Hendrix.
Ek het gou geleer om nie bang te wees om iets anders te probeer nie, maar moet dit net nie vir die eerste keer doen wanneer jy belangrike gaste het nie. Dit was ’n waardevolle en duur les om te leer.
As ek gaan uiteet, is ek gek oor T-bone steak, maar net so gek oor garnale, so dit hang af van die restaurant waarheen ons gaan.
Ek gebruik baie graag tiemie en dragon (tarragon) in my kos en glo dat hierdie kruie nie genoeg aandag in Suid-Afrikaners se kombuise kry nie.
My Thermomix is my gunsteling kombuisgereedskap.
As ek ’n drankie kon wees, sou dit die De Grendel MCC wees. Ek is maar ’n stil outjie, so die drankie sal my laat borrel!
Maar my gunsteling drankie is Ierse whiskeys, Tulamore Dew en Bushmills.
My lewensleuse is “Semper Splendidior” – dit was my skool se leuse en ek dink dit beteken “altyd helderder”.
My ma maak die lekkerste broccoli en blomkool met witsous en kaas. Sy gebruik Maisena en ek bestel dit gereeld as ek nie lus is vir kook nie of sommer net na haar kookvernuf en my grootwordjare verlang.
Die drie bestanddele wat jy altyd in my koskas sal kry, is knoffel, Maldon-sout en olyfolie.
Sout is die een bestanddeel wat enige maal vir my opkikker. Dit klink simpel, maar partykeer kort ’n dis net ’n knippie sout om die geur uit te bring.
My gunsteling kookboek is Anthony Bourdain se “Kitchen Confidential” en my gunsteling kosgesegde is: Bon appetit! (Ek sê altyd “Born up a tree”, maar dis maar my ou flou grappie).
Caramel Treat is my doodsonde. As ek eers begin het….
- Klik hier vir Ian se springbokskenkel-resep
- De Grendel Restaurant, M14, Plattekloofweg, Plattekloof, (021) 558-7035, epos: [email protected] of besoek degrendel.co.za